Tuesday, 17 April 2012

Nog gedagtes oor Gkafee 2012


Nog Gedagte oor Gkafee by die GGNG/KKNK 2012 (2)

     “Verwag om teleurgesteld te wees” hoor ek myself en Paul vir almal sê. En so gaan die avontuur van gee voort. Dis die eerste keer dat so iets by KKNK gebeur, en mense koop nog nie ons idee van GGNG nie. “Wat is die lokval?” wil die mense, wat darem oogkontak maak en praat, weet. “Hiersie lokvalle`ie, ne` koffie en baaaaie gratis suiker!” kom die spontane reaksie van menige plaaslike mensies wat vinnig besef hier`s `n bargain. En so kry bekendes soos Kurt, Pieter, Hennie, en Freddie hulle gratis koffie of yskoue water as hulle kom vir onderhoude by “ons” radiostasie, saam met onbekende Boy, James, Lenie, André en die vier brandarm sussies wie se name ek nie kan onthou nie.
Goeie vriende ontmoet weer by Gkafee
     “Hoekom gee julle vir hulle ook” wil `n tannie met `n opgetrekte neus weet. “Want ek is so lief vir hulle soos ek vir tannie is” antwoord een van die 12 :-). Ons mense het so wantrouig geraak (te verstane). Dit vat nogal inspanning om hulle te oortuig dat hierdie water en koffie net met liefde gespike is, jou niks gaan kos nie en jou nie tot `n donasie wil verlei nie. `n Mooi getuienis hieroor kom oor ons Amerikaanse vriend Samuel, wat net `n paar woorde Afrikaans kan praat. Twee tannies kom in die tent in en sê: “ons was baie skepties en hierdie is maar vreemd, maar daai kind se oë was so sag, hier moet iets goeds aan wees.” Dit is God wat grense van taal en vertroue oorsteek wat ons nie kan nie.
     Elke keer as ek die Gee wil organiseer, kom daar `n dorinkie in die vlees wat my herinner, dit gaan nie oor wat jy Gee nie, maar wie jy is as jy gee. Kyk in oë, ruik diep (selfs al ontstel die geur van lank laas se was jou), vat aan `n skouer, wees ferm met `n glimlag op jou bakkies, erken die wonde, wys jou eie kwesbaarheid. Gun mense om nie te wil vat wat jy gratis wil gee nie. Dink aan Jesus wat sê: hulle weet nie wat hulle doen nie (soos een dame kliphard vir `n groep sê wat nie die yskoue water wil vat nie). Gee mag nooit `n Brand wees nie, moenie oorgeorganiseer word nie, moet relevant, rou, kreatief, en op hierdie een voor my gerig wees. Gee is nie altyd lekker nie. Wanneer jy gestroop word van jou verwagting, weet jy dis goed vir jou. Moenie op die seën van Gee fokus nie, maar fokus op die gehoorsaamheid daarvan!

Vir nog foto`s, gaan kyk hier: https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10150663859072611.384734.140266187610&type=3

No comments:

Post a Comment