My gedagtes oor
HarTklop@Aardklop 2011
Koninkryk
Ek het nou verskeie pogings aangewend om mense te vertel wat
daar gebeur het, maar selfs die langste gesprek van 2 ure met my vrou, kon maar net aan
die oppervlak krap. Dit is asof mens so besig was om onvoorwaardelik (en teen
jou menslike sin vir regverdigheid, dissipline en waardes) te gee, dat jy die
heeltyd op Jesus moes leun om te weet wat om te doen. Dit was vir almal (die
leiers en organiseerders ingesluit) onbekende terrein. Geen toerusting is gegee
of kon gegee word vir wat regtig vir ons
voorgelê het nie. Die hele geleentheid is aangepak met `n gesindheid van
eerlikheid, veral oor die rouheid van die situasie, maar ook van hoe ons dit
sou ervaar. Nie beheer nie, maar vertroue was die wagwoord.
My grootste vrees is dat ek moontlik gaan vergeet hoe dit
gevoel het om so in vertroue op die Here te lewe dat ek nie anders kan as om te
beweeg wanneer Hy beweeg nie. Daardie gevoel om voor iemand te staan wie jy
eintlik met minagting verdra, net om ontbloot te word as iemand wat die uiterlike oordeel en
nie die storie agter die persoon soek nie. Om werlik in Jesus se skaduwee te
sit, toe Hy die Samaritaanse vrou se storie ontgin het, sodat Hy haar met die
grootste wonder van almal kon bedien – sy onvoorwaardelike liefde!
Teelepels
My oë het oopgegaan vir voertuie / geleenthede / verskonings
vir koninkryksgesprekke. Iets so eenvoudig soos koffie, so sigbaar soos `n
neusring, so kontroversueel soos `n tatueermerk, so afstootlik soos
dronkenskap. Daar was geen voorafbepaalde “standaard” waaraan iemand moes
voldoen voordat daar `n “waardige” gesprek kon gebeur nie. Elkeen kon kom net
soos hy of sy is: ongewas, gesofistikeerd, gomgesnuif, in beheer, jonk, verantwoordelik,
onbeskof, ondankbaar, onseker, geesverfuld.............almal net soos hulle is.
Die enigste verskil: `n bewuste reaksie op die Here se genade! Jakobus 1:27 “ Egte en suiwer
godsdiens/erediens/aanbidding voor God die Vader is om weeskinders en weduwees
in hulle moeilike omstandighede by te staan” is meer as `n mooi gedagte.
Dit is koninkrykswaarheid. OM TE GEE MAAK MENS WERKLIK GELUKKIGER AS OM TE
ONTVANG (Hand. 20:35).
Die waarde van stories het my geruk – elkeen het `n storie,
as ons net bereid sal wees om te luister (http://www.youtube.com/watch?v=2v0RhvZ3lvY&feature=player_detailpage)! Die blinde man het na Jesus uitgeroep
“ontferm U oor my” en toe HY omdraai en hom vra wat Hy vir hom kan doen, maak
sy storie die verskil “dat ek kan sien.” Tydens HarTklop het ek dikwels gevoel
soos die een wat nie kan sien nie, terwyl die mense se lewens rondom my om hulp
roep - dat hulle kan sien. Toe moegheid en onsensitiwiteit inskop, het ek te veel
begin doen, en te min net gewees. Ek het die taak raak gesien en nie meer die
stories wat rondom my afspeel nie. Miskien moet ek ook hierin my menslike
gebrek aan kapasiteit vir ander se stories bely. Tog is daar elke keer
tweestories vertel, die van die Aardklopper en die van die harTklopper. Ook in
hierdie opsig was dit beter om te gee as om te ontvang. Ek sal nooit weer
dieselfde na `n fees kyk nie. My hart is omgeklop!