Spore of voet-spore?
Teelepels
Ek lees onlangs `n mooi storie oor die treinmense deur Dana
Snyman in die Weg. Hierin vertel hy hoe hy gaan soek het na die mense wat in
die 80`s en vroeë 90`s nog die stasies en treine beman het wat die land
deurkruis het. Suid-Afrika het beskik oor een van die beste spoornetwerke ter
wêreld. Maar nou is die stasies leeg, treine loop net nou en dan, en die mense?
Die een na die ander het hulle briewe gekry wat sê dat hul pos nie meer benodig
word nie. Die stasie maak toe. “Hulle het ons weggegooi” sê oom Hans van
Vuuren, 38 jaar in diens van die Spoorweë.
Hoe het dit gebeur? Het die tegnologie maar net so verbeter
dat treine oudtyds geraak het? Miskien, en tog speek treine elders in die
wêreld, steeds `n groot rol in vervoer. Tog is die feit dat padvervoer
vinniger, veiliger en meer betroubaar geword het. Produkte het verander, markte
het verander, prioriteite en politiek het verander. En as jy die een storie na
die ander hoor van mense wat steeds op die treindorpie bly, sou hulle nooit kon
glo dat die wêreld sonder treine kon regkom nie. Hoe kan die wêreld reg werk
sonder `n trein wat presies op die regte tyd inkom en uitgaan, sonder die
dissipline van skoon netjiese stasies, rooi gepoleerde stoepe, roepmanne wat
drywers betyds wakker maak, jong seuns van 16-17 wat treine skrop, kole stook
en presies maak soos die drywer gebied. Hierdie instansie wat soveel mense `n
lewe gegee het, op wie se rug Suider Afrika gebou is, was “nooit” in `n krisis
nie, totdat die krisis hom ingehaal het. Was die probleem dalk dat daar te veel
opgegaan is in die treine en te min in die besigheid van vervoer?
Sommige het aangepas, trokdrywers geword, winkeltjies
oopgemaak, want vervoer moes aangaan, goedere moes steeds verskaf word. Ander,
bly nog daar op die treindorp, met rooi gepoleerde stoep, horlosie presies op
tyd, en sê: ons is weggegooi. “Die Spoorweë,” die instansie waarvoor ek my lewe
gegee het, het my weggegooi.
Koninkryk
Terwyl ek hierdie storie lees kon ek nie help om aan die
kerk te dink nie. Daar is soveel raakplekke. Soos die spoorweë het die kerk `n
groot rol in die opbou van Suider Afrika gespeel. Elke dorp het `n kerk, twee,
drie gehad. Dit is bewaar en uitgebou met sterk dissipline. Elke “klerk” het
presies geweet wat van hom verwag word om die instelling se werking glad te
laat verloop. En hoe sou `n samelewing sonder hierdie instansie kon klaarkom?
Dit was ondenkbaar. En was die kerk “nooit” in `n krisis nie, totdat die krisis
haar ingehaal het.
Van verskeie kante hoor mens die aanklag: “die kerk het ons
weggegooi.” Jy hoor dit by mense wat totaal ontnugter is deur die kerk se
onvermoë om by die tyd aan te pas (die boodskap af te lewer), maar ook van
hulle wat hul lewens vir die kerk gegee het.
Wat is die antwoord? `n Nuwe geld en sweet inspuiting in die
instansie, sodat die stoepe van tradisie weer gepoleer kan word, sodat die
presiese dissipline weer die werking van die kerk kan regruk? Moet ons weer in
treine belê, of in vervoer? Wat is die doel van die kerk?
Die kerk is nie gegee sodat al die treine daar kan stop,
skoongemaak kan word, en op hul pad gestuur kan word totdat dit oor 7 dae weer
kom volmaak nie. Die kerk is gegee om iets kosbaars te vervoer, nie net op die
breë spore van groot geboue en dominees wat weet hoe om te laat stook, en
wanneer om te fluit nie. Maar juis om op elke manier moontlik, op elke snelweg,
grondpad, tweespoorpaadjie, vliegtuig-, boot-, trein- en trokroete, deur
draadlose kommunikasie, deur alle moontlike maniere, hier boodskap te vervoer
terwyl ek dit lewe.
Indien iemand oor 10 tot 20 jaar van nou af `n rit sou
onderneem om te gaan kyk waar die kerke en sy mense dan heen is. Wat sal hy
kry? Mense met kerklike ornamente, eeufeeswyn, gedenkblaaie van 25, 50, 75 jaar
se kerkwees, wat verlangend na die goeie ou dae sê: die kerk het ons weggegooi?
Of sal hy skryf van `n instansie wat `n beweging geword het.
`n Beweging wat die vervoer en leef van hul boodskap so ernstig opgeneem het,
dat daar nie `n plek is waar dit nie uitgekom het nie. En die rede? Ons volg in
Sy voetspore......
Volg jy die spoor? Of volg jy voet-spore?