Tuesday, 8 April 2014

Noah - die fliek - hoe roer dit?

“Noah” die fliek - hoe roer dit my?

Dis nogal opvallend hoe baie “geestelike” en selfs “Bybelse” films daar in die laaste ruk die lig sien. Baie gelowiges raak opgewonde en sê dat sulke “Christelike” films oop arms verwelkom moet word. Flieks is `n baie kragtige medium, maar wil op die ou einde seker maar presies net dit wees: `n fliek. “Entertainment” vir die massas. `n Storie wat verkoop. Ek dink Wikipedia http://en.wikipedia.org/wiki/Noah_(film) som dit eintlik mooi op: “Noah is a 2014 American epic biblically-inspired fantasy film....., and based on the story of Noah's Ark.” Hierdie fliek moet na my mening geensins as `n godsdienstige of Christelike film gesien word nie. Dit is fiksie, gebaseer op die riglyne van `n historiese ware gebeurtenis.
Wat was positief:
·         Aan die begin word verklaar dat die “Skepper” alles gemaak het. Dit word verkeie kere in die fliek herhaal.
·         Die verwoesting van die vloed word nie as `n natuur frats uitgebeeld nie, maar as `n direkte handeling van God as straf vir sonde.
·         Die uitbeeld van die ark en hoe God dan die diere laat kom is na my mening aangrypend en `n goeie raaiskoot van hoe dit sou kon gebeur, sonder om dit “wetenskaplik” te wil verklaar.
·         Noag word uitgebeeld as iemand wat totaal op God vertrou, ten spyte van baie (veronderstelde) persoonlike wroeging. Daar word baie daarvan gemaak dat hy deur God gekies is.
·         Daar word nie weggeskram van die Bybelse feit dat die aarde ook vervloek is a.g.v. die sondeval nie. Verder word die totale verlorenheid van die mens duidelik gestel, ook visueel, so erg dat die mens sy eie spesie begin oes om aan die lewe te bly.
·         Noag maak die stelling: “there is evil in all of us, we are no better.”


Wat vind ek negatief:
·         Oor die algemeen word daar net genoeg van die Bybelse gebeure gebruik om dit sterk aan die oorspronklike te koppel, maar dit wat ingevoeg word, is dan weer so ver van die oorspronklike dat dit werklik die egtheid van die oorspronklike verhaal vertroebel. Voorbeelde is:
o   Die engele wat aarde toe val “om Adam te kom help” en dan in mitologiese fantasie karakters verander wat dan ook vir Noag help.
o   Noag wat omgee vir die natuur, so veel dat hy vegetaries lewe, en `n tipe “Green Peace” vegter word.
o   Die diere word as die “heiliges” uitgebeeld waaroor God se hele “reddingspoging” deur die vloed sou gaan. Die slegte koning is die een wat op die ou einde onthou dat die mens na God se beeld en as kroon van die skepping gemaak is. Hieruit word dan voorgehou dat die mense beter moet kies wie hy wil wees as hy wil oorleef. Daar word `n onbybelse spanning geskep tussen die mens se begeerte na geluk en lewe, en God se uitwissing van die bose.
o   Metusalag (Noag se oupa) word as nog lewend voorgehou. Hy tree op as `n soort Gandolf die Gryse wat al die toorkunsies ken, inmeng in God se plan ter wille van die mens se geluk en dan tog in die vloed sterf.
·         Daar word deurentyd gesinspeel (nie deur die Noag karakter nie) dat die mens dan eintlik ook in homself goed is.
·         Gam word voorgehou as die slagoffer van sy omstandighede, en die swak verhouding tussen hom en sy pa.
·         Noag spreek op die ou einde die woorde van die verbond uit en nie God nie. Hier is vir my die grootste bewys van die mitologiese storielyn wat sy houvas kry. Die mens leef onder God, maar moet maar self besluit hoe hy vorentoe sal gaan.
So, mag `n Christen hierdie fliek kyk? Ja. Behoort hy? Met groot versigtigheid. Moet ons dit goed praat as nog `n deurbraak vir die Christen filmwêreld? Nee, hiervoor steel dit die eer van God en plaas die mens sentraal. Behoort kinders dit te kyk? Ek dink nie dit is wys nie. Kry eers die egte storie reg. Noah is `n fiksie fliek, en na my mening nie een van die bestes wat ek al gesien het nie.
`n Laaste opmerking: hou op om van God se verhaal uit Noag se lewe, `n kinder feeverhaaltjie te maak met grappige diertjies op `n klein komieklike bootjie. Moet dit nie “sugercoat” nie, vertel dit soos God dit gegee het. Dit is sy storie, Hy is die hoofkarakter en dit is waar. Volg sy storie! Die hele Bybel!


5 comments:

  1. Uitstekende kommentaar op die fliek, dankie Henning.
    Ek is dit 100% eens op jou stellings en kon dit nie beter verwoord het nie...

    ReplyDelete
  2. Ek stem 100% met jou saam Henning as 'n mens met jou oogpunt na hierdie film kyk.
    Daarteenoor wil ek ook net byvoeg dat ek sommer van die begin af nie die vliek as n oorvertelling,
    of Bybel-storie, gesien het nie. Ek het die film eerder ervaar as n fantasie storie, geinspireer deur
    die omstandighede en storie van Noag, maar tog geskryf en verander om as n roman, sterk en interessante
    karakters te skep wat sal werk om mense gebonde te hou en n vermaaklike film ervaring te lewer.
    Die film was vir my dus duidelik nie n Bybel les nie, maar 'n storie soos enige ander, soos byvoorbeeld The Lord of the Rings
    , en ek dink die titel laat somige mense dalk met die verkeerde idees by die teater instap.

    Dit was dadelik opvallend met al die verskeie klassieke fantasie elemente soos die "Rock-Gollums"/engele, die vreemde diere
    en die onmoontlike groot en geindustrialiseerde stede van Cain se seuns. As iemand wat in die film industrie gewerk het
    en self n groot belangstelling het in die kuns van stories vertel kon ek dadelik aflei dat hierdie omstandighede
    van Noag 'n goeie inspirasie was om 'n karakter-gedrewe storie te vertel met intieme interne en eksterne
    konflikte wat ons almal by aanklank by kan vind. Dus, vir myself ten minste, voel dit duidelik dat die
    regisseur nie bedoel het om n Bybel se storie te vertel nie, maar eerder om n pret en skrikwekkende verbeeldingstog te skep.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie vir jou reaksie Corne. Ek stem saam, behalwe dat die bemarking van die fliek daarop gesinspeel het dat die juis Bybels korrek is. Dit maak die konteks so bietjie moeiliker. Toegegee het die regisseur wel later gesê dat die mees onbybelse bybelse film is wat nog gemaak is. So lank mense kan kophou oor wat die "waarde" van die film is, m.a.w. dat dit juis net `n film is, is dit goed.

      Delete
    2. Ja definitief! Maar dis so waar wat jy sê, dankie vir n interessante resensie.

      Delete
  3. Net nog 'n storie wat erens raakpunte het aan 'n Bybelse verhaal. Fantasie en fiksie soos meeste moderne flieks.

    ReplyDelete