
Ek dink aan `n struktuur. Almal gebruik dit: gesinne, enkellopendes, oues, jonges, alle kulture. Dit kom in verskillende vorms. Word gemaak van sink, hout, karton, bakstene, plastiek en soms net `n kombers of koerantpapier. Dis `n plek (al skuif dit vir party), dis `n gevoel, dis huis! Maar of jy nou sinke slaan, bakstene lê, plastiek of seil oortrek, karton opslaan of kombêrs gooi: as die Here dit nie bou, bou elkeen verniet (Ps. 127). Verniet dat jy baie geld spaar om `n mooie te bou, verniet as jy laat gaan slaap omdat dit steeds koud is of die reën deur die gate lek. Sal die Here pyle in ons huise kry, ongeag die mense wat daar bly of die materiaal waarmee dit gebou is? Pyle waarmee Hy die teiken tref? Vat dit huistoe! Moenie nog `n bediening bou, nog `n projek loots, nog geboue bou nie! Vat geloof huistoe! Help pa`s en ma`s om hul geloof in hul kinders te giet; help oupa`s en ouma`s om verbondsbidders te wees vir kleinkinders en kinders; help enkellopendes om in hul huise, kommunes en koshuise geloof te leef! Vat dit huistoe!
No comments:
Post a Comment