Tuesday, 29 November 2011


My gedagtes oor HarTklop@Aardklop 2011

Koninkryk
Ek het nou verskeie pogings aangewend om mense te vertel wat daar gebeur het, maar selfs die langste gesprek van 2 ure met my vrou, kon maar net aan die oppervlak krap. Dit is asof mens so besig was om onvoorwaardelik (en teen jou menslike sin vir regverdigheid, dissipline en waardes) te gee, dat jy die heeltyd op Jesus moes leun om te weet wat om te doen. Dit was vir almal (die leiers en organiseerders ingesluit) onbekende terrein. Geen toerusting is gegee of kon gegee word vir wat  regtig vir ons voorgelê het nie. Die hele geleentheid is aangepak met `n gesindheid van eerlikheid, veral oor die rouheid van die situasie, maar ook van hoe ons dit sou ervaar. Nie beheer nie, maar vertroue was die wagwoord.

My grootste vrees is dat ek moontlik gaan vergeet hoe dit gevoel het om so in vertroue op die Here te lewe dat ek nie anders kan as om te beweeg wanneer Hy beweeg nie. Daardie gevoel om voor iemand te staan wie jy eintlik met minagting verdra, net om ontbloot te word as iemand wat die uiterlike oordeel en nie die storie agter die persoon soek nie. Om werlik in Jesus se skaduwee te sit, toe Hy die Samaritaanse vrou se storie ontgin het, sodat Hy haar met die grootste wonder van almal kon bedien – sy onvoorwaardelike liefde!

Teelepels
My oë het oopgegaan vir voertuie / geleenthede / verskonings vir koninkryksgesprekke. Iets so eenvoudig soos koffie, so sigbaar soos `n neusring, so kontroversueel soos `n tatueermerk, so afstootlik soos dronkenskap. Daar was geen voorafbepaalde “standaard” waaraan iemand moes voldoen voordat daar `n “waardige” gesprek kon gebeur nie. Elkeen kon kom net soos hy of sy is: ongewas, gesofistikeerd, gomgesnuif, in beheer, jonk, verantwoordelik, onbeskof, ondankbaar, onseker, geesverfuld.............almal net soos hulle is. Die enigste verskil: `n bewuste reaksie op die Here se genade! Jakobus 1:27 “ Egte en suiwer godsdiens/erediens/aanbidding voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan” is meer as `n mooi gedagte. Dit is koninkrykswaarheid. OM TE GEE MAAK MENS WERKLIK GELUKKIGER AS OM TE ONTVANG (Hand. 20:35).

Die waarde van stories het my geruk – elkeen het `n storie, as ons net bereid sal wees om te luister (http://www.youtube.com/watch?v=2v0RhvZ3lvY&feature=player_detailpage)! Die blinde man het na Jesus uitgeroep “ontferm U oor my” en toe HY omdraai en hom vra wat Hy vir hom kan doen, maak sy storie die verskil “dat ek kan sien.” Tydens HarTklop het ek dikwels gevoel soos die een wat nie kan sien nie, terwyl die mense se lewens rondom my om hulp roep - dat hulle kan sien. Toe moegheid en onsensitiwiteit inskop, het ek te veel begin doen, en te min net gewees. Ek het die taak raak gesien en nie meer die stories wat rondom my afspeel nie. Miskien moet ek ook hierin my menslike gebrek aan kapasiteit vir ander se stories bely. Tog is daar elke keer tweestories vertel, die van die Aardklopper en die van die harTklopper. Ook in hierdie opsig was dit beter om te gee as om te ontvang. Ek sal nooit weer dieselfde na `n fees kyk nie. My hart is omgeklop!

1 comment:

  1. Baie dankie vir jou deel, dit is baie inspirerend. Mag ons almal die stories om ons raaksien en streef daarna dat God deur ons 'n verskil maak.

    ReplyDelete