Thursday 31 July 2014

Waar is God as ons seer het, as dit lyk of die wêreld om ons uitmekaar val?

Waar is God as ons seer het, as dit lyk of die wêreld om ons uitmekaar val?

Kind word deur kapers tot sy dood gesleep, vliegtuie val, oorloë, klein kindertjies sterf in frats ongelukke, mense word uit hul huise gesit en met net die klere op hul rug uitgeban vir hul geloof, ander word gekruisig en gemartel, terwyl `n pa van kanker sterf en siekte mense hier naby en oor die wêreld bang maak. Ek voel soms soos Philip Yancey: "I feel helpless around people in great pain. Helpless, and also guilty. I stand beside them, watching facial features contort and listening to the sighs and moans, deeply aware of the huge gulf between us. I cannot penetrate their suffering, I can only watch. Whatever I attempt to say seems weak and stiff, as if I`d memorized the lines for a school play."

Sunday 13 April 2014

Noag en Paasfees

Genesis 6-9 Noag en Paasfees


Dit is Paastyd! Vandag is Palm Sondag, Jesus ry op `n donkie in Jerusalem in terwyl die mense Hom toejuig.
             
Hoekom Noag in Paastyd?
Want die hele Bybel is die openbaring van God.
            God se storie is een geheel, of jy volg die hele storie, of jy maak jou eie.
                        Dit is nogal duidelik uit die nuwe kontroversiële fliek oor Noag en die vloed.
Die regisseur maak sy eie storie op, omdat Hy nie God se storie verstaan nie.

Maar hoe pas die vloed en Paastyd dan by mekaar?

Kom ons volg die storie.
Ons tel dit op as God iets oor sy hart openbaar in v. 5: “die Here (was) bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.”
Van “en dit was baie goed” in Genesis 1:31 tot korrup, vol geweld en selfs verrot in 6:11.
            Die besluit is finaal, dit is koninklik: God besluit om `n einde aan alles te maak.
                        Die woordjie uitwis in v.7 beteken letterlik om iets uit te vee deur dit te was.
Dieselfde werkwoord word in ander dele van die Bybel gebruik vir die afwas van sonde.
            God gaan die sonde letterlik van die aarde afwas.
Hier word baie klem daarop gelê dat alles verrot is, en verdien om te sterf.
                        Maar Noag word deur God begenadig.
Die bedoeling is nie hier dat Noag juis sonder sonde was nie, maar dat God hom gekies het.
Hy maak dan voor die tyd sy plan van verwoesting aan Noag bekend, en nou moet hy in geloof in wat God gesê het, soos `n begenadigde lewe.
            Die opdrag: maak vir jou `n ark.
                        En dan kom die omvang van God se straf en sy genade in die prentjie.
Noag gaan nie gou `n bootjie in die agterplaas aanmekaar slaan nie.
            Dit is massief!
Noag, jy gaan jou lewe aan geloof in jou redding wei.
                        En hoekom Noag?
            Want God wil (v. 18)!
God kies vir Noag.
As God dan `n verbond met hom maak, hoor ons nie vir Noag praat nie, net God praat.
                        En in geloof, doen Noag presies soos God hom beveel.
Hierin lê die vrug van sy geloof – sy geloof in die God wat lewe gee, waar daar eintlik dood moes gewees het.
God het sy verlossingsplan aangekondig voordat Hy die vrot van die sonde met al die aarde se water gaan afwas.
Die omvang van die straf is oorweldigend, maar so ook die omvang van die redding.
Duisende diere, maar net 8 mense, veilig binne in die oorweldigende verwoesting.
Kan jy jou voorstel wat se indruk hierdie gebeure om Noag en sy gesin moes gemaak het?
            God onderhandel nie oor sy heerlikheid nie.

En terwyl die mense buite gil en skreeu vir hulp moes Noag gewonder het, “waarom dan ek Here?”
Noag kon ook nie die ander mense red nie, redding kan net van God kom.

As alles dan opgedroog het, en God self weer die ark oopmaak wat Hy hulle toegemaak het, is Noag se eerste daad om offers te bring.
            Hy weet waar hul redding vandaan kom! Hy offer van al die rein vee!
                        En sy oorgawe is vir God goed.
Nooit weer sal sondes so skoongewas word nie, beloof God met sy reënboog.
            Dit was groot, maar nie groot genoeg nie.
En Noag se opdrag, bewoon en bewerk! Gaan verryk hierdie wêreld. Lewe!

En Paasfees dan?
Lees Lukas 17:26 
26“Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: 27hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.

Jesus is hier besig om oor die koms van die koninkryk te praat.
Hy vergelyk dan sy tyd, met die tyd van Noag: m.a.w. korrup, vol geweld en verrot.
Niks het verander nie, selfs nadat God hoeveel keer oor begin het met sy kinders, vergeet hulle dat Hy koning is, en mis hulle sy geduld en genade.
                        Nooit weer sou die aarde skoongewas word deur `n vloed nie.
Die van onskuldige diere offers oor baie eeue was ook nie genoeg nie.
            Nee, iets groters was nodig.
Want die finale straf sou groter en erger wees as die vloed in die tyd van Noag, en die redding, groter en meer permanent as die redding deur die ark nie.
Daar sal weer `n skoonwas wees, maar hierdie keer sou dit bloed kos, en nie die bloed van mense en diere nie, nee die bloed van God self.
Soos Hy destyds die planne vir die ark presies vir Noag gegee het, en soos wat Hy elke oomblik betrokke was in die toemaak en oopmaak van die ark se deur, net so haarfyn was God se finale reddingsplan.
En weer kondig die genadige Koning verlossing aan voordat Hy die straf voltrek.
Paasfees gaan juis oor hierdie aankondiging, en Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader, kla sy omstanders aan wat nie hul verrotte manier van lewe wil prysgee nie.

Jesus is ons veilige plek, ons ark in die vloed van ons eie, vernietigende, en verrotte sonde.
Hy het haarfyn sy Vader se plan uitgevoer, ja elke ding wat ons met Paastyd onthou.
                        En die omvang?
Die koning van die heelal kom, tussen mense, om die sonde finaal af te was met sy bloed.
Net soos die ark gebou moes word, en die waters moes trotseer tot alles skoon gewas is, net so moes Jesus alles deurmaak en verduur, sodat redding volkome kon wees.
Hy blaas sy asem uit, sodat Hy die asem van sy kinders veilig in sy hande kan hou.

Onverwags sal die oordeel kom, en die asem wegvat van hulle wat nie glo dat Jesus die vloed is wat sou kom nie.
Sy oordeel sal die krag, mag en geweld van miljoene liters water per sekonde oortref wanneer Hy elkeen tref wat nie opkyk en erken, dit is net genade nie.

Noag is nie gered omdat hy goed was, of goeie dade gedoen het nie.
            Hy is deur God begenadig, en uitgekies.
Hoor hoe Jesus se dade in Paastyd juis hierdie genade bevestig in 2 Tim. 1:9
“Hy (God) het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat hy van ewigheid of in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus.”
Ook Hebreërs 11:7 Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

Noag se geloof het eers sy betekenis in Jesus gekry, en in dit wat nie Noag, Abraham of Moses kon regkry nie, nl. om die kinders van die Here finaal te red.
Wanneer jy dan God se storie deur Noag se lewe volg, dink daaraan: so groot en onwerklik as wat dit klink dat `n mens so `n groot boot kon bou, en vir `n jaar lank saam met duisende diere daarin kon oorleef, soveel groter is dit as die Koning van die heelal aan `n klein mensgemaakte kruis kom hang, om almal te red.
Jesus het ook vir Noag gekom, wat maar net vir homself `n ark kon bou, maar nie homself kon red nie.
Gewillig ry Jesus dan op hierdie dag Jerusalem binne, wetende dat Hy die ark is waarin God se kinders moet skuil, wetend dat dit Hy is wat die vloek van die sonde gaan dra.
Vir Noag was daar `n belofte dat God nie weer op so manier sou straf nie, en net so is daar vir ons `n belofte dat niemand weer aan `n kruis hoef te sterf nie.
            Jesus sê: dit is volbring!

Broer en suster, God is toornig oor sy heerlikheid!
            Die omvang van die water vloed verhaal maak dit duidelik!
As ons hierdie gedeelte van God se storie afwater, dan maak ons ook sy reddingsplan deur Jesus klein.
Dink dan in hierdie week daaraan as die wêreld hasies en eiers jaag: Jesus Christus het dit wetend deurgegaan, die hele vernedering en lyding van geboorte tot kruis, sodat water nou vir ons `n nuwe betekenis kry.
                        Water verwoes nie meer nie, maar is teken van ons hoop.
Deur die doop, kan ons terugdink aan Noag se geloof in God, maar ook aan Jesus se volkome redding.
Maar weet ook, dat soos Noag die verlore gille van mense moes aanhoor, hoor die gille en van hulle wat nie in Jesus glo nie, herinner hulle aan Hom, en weet, jou redding is net genade.

Ark, reënboog, kruis en oop graf – alles tekens van God se genade en heerlikheid.